Verwyder sjokoladevlekke met matsjampoe, ammoniak of gliserien. Wag in gliserien se geval tien minute voor jy die item was.
Maak ‘n stomp skêr skerp deur oor die bek van ‘n glasfles te knip asof jy dit wil sny.
Voeg ‘n paar druppels suurlemoensap of ‘n teelepel heuning by room as jy dit nie styf genoeg geklop kry nie.
Taai druppels teen mure teels en kaste in die kombuis: verf paintstripper aan, wag so een minuut en skrop dit af met skuurdraad en water (nie seep of handy andy nie)
Wit kalkwaterdruppels teen ruite: sit 'n bietjie verfstroper aan 'n skuurspons en vryf die ruite daarmee tot die wit druppels verdwyn. Was dan met water af.
Vratte: Jy kan turlington, bruindulsies of terpentyn aanwend. Deur een van die drie gereeld te gebruik, verdwyn die vrat na 'n ruk.
Jy kan meer sap uit ‘n suurlemoen druk as jy dit eers ‘n paar sekondes in kookwater dompel.
Koorsblare: Vanilla essens werk goed as jy kort-kort daarvan opsit. Jy kan ook polio entstof by die kliniek probeer kry, dit werk soos 'n bom.
Ervaar jy 'n drukkende gevoel of erge ongemaak wanneer jy urineer, drink Citrosoda. Dit speel vinnig klaar met enige soort blaasprobleme. As dit egter aanhou, gaan sien 'n dokter.
Nierstene is 'n bitter pynlike ervaring. Ekself drink soveel moontlik water wanneer ek die eerste tekens van pyn begin ervaar. En gereeld soos klokslag glip die steen deur sonder dat ek dokter of hospitaal toe hoef te gaan. Probeer ook so aktief moontlik bly hoe pynlik dit ookal is. Spring op en af of loop rond. Dit help die proses vinniger aan
Vlooie: Was jou troeteldier met sunlightseep en gooi 'n paar doppies dettol in die water waarmee jy hom afspoel. Dit werk beter as die gekoopte produkte.
Ruitwas: Baie mense sukkel nog met gefrommelde koerante om ruite blink te kry. Skaf vir jou 'n ruitwasser aan soos die wat hulle by die garages gebruik. Dis darem 'n droom om jou ruite vinnig, skoon en blink te kry.
En om ruite wat ongemaklik agter veiligheidstralies is, gebruik 'n stoommasjientjie wat stoom uitblaas om daardie ruite skoon te spuitblaas met een van daardie masjientjies wat hulle altyd op Verimark adverteer..
Vetterige voorruit: Smeer dit eers met coke, was dan gewoonweg.
Vanillageursel verwyder slegte reuke in 'n yskas diepvries of kar waarin iets vrot geraak het.
Verf: Terwyl jy besig is, moenie roller of kwas elke keer in terpentyn sit nie, draai dit in 'n stuk plastiek toe (inkopiesakke werk goed) en gebruik net verder. Dit sal verhoed dat jy elke keer moet sukkel om die terpentyd uit die kwas te kry. Eers as jou verfwerk heeltemal klaar is kan jy die kwas behoorlik skoonmaak.
Vetkolle en vlekke: Spuit Doom daarop voordat jy die kledingstuk was. Alkohol, haarsproei en spiritus werk ook soms.
Inkkolle: smeer tandepaste op, laat staan vir 'n paar minute en was dit dan uit.
Kerswas op materiaal. Skraap soveel as moontlik van die kerswas weg en plaas dan ‘n bruin papiersak oor die was. Stryk nou met ‘n warm strykyster bo-oor die bruin papier en sien hoe die was verdwyn!
Vliee Basiliekruid in die vensterbank sal vlieë uit die vertrek weghou.
Vuil krae: Vryf 'n pasta van koeksoda en asyn aan, laat ruk lank staan en was dan gewoonweg
Vullisdrom; Jeyesfluid sal keer dat honde jou vullisdrom kom omkeer.
Teesakkies, uitgedroog, werk uitstekend as vuuraanstekers.
Toilet: Domestos oornag sal die vlekke uit jou toilet verwyder. Nog goed wat help is asyn asook swembadsuur
Bêre verfblikke onderstebo, anders vorm daar ’n skil bo-op die verf.
Week verfkwasse wat hard geword het ’n halfuur in baie warm asyn.
Verstopte afvoerpype, Gooi 'n halfbottel asyn en pakkie koeksoda daarin, laat staan 'n ruk en gooi dan kookwater daarin af.
Witasyn hou jou bad skoon en sonder aanpaksels. Gooi 'n bietjie in jou badwater.
Bêre stukkies toiletseep in 'n houer tot dit vol is, laat week dit dan tot sag, meng goed, gooi dit in vormpies of bakkies en sit iewers neer om droog te word vir hergebruik.
Ou brood in vingertjies gesny kan heerlike "koeksisters" wees as jy dit in olie bak tot bruin en dan in koeksisterstroop doop.
Vir bros pannekoek, gooi kookolie by die beslag. Oppas net vir te veel, dan gaan die pannekoek onhanteerbaar bros raak. 'n Kwart koppie olie vir elke 2 koppies meel is omtrent net reg.
Vermeerder jou maalvleis deur fyngerasperde aartappel by te voeg wanneer jy frikkadelle maak.
Vir 'n goedkoop, maar smaaklike sop, kook 2-3 kg Murgbene (baie murg, geen vleis) en twee pk Spar Red Beans (dit kook binne 'n uur sag en jy hoef dit nie vooraf in water te week nie) saam, geur met sout, peper en asyn en maak fyn tot gladde romerige tekstuur.
As jy boeke oortrek, plak vooraf kort stukkies sellotape teen die rand van die tafel waarop jy werk; dis baie makliker om dit dan só te gebruik as om elke keer te sukkel om dit van die rolletjie af te kry.
Hou altyd die volgende "noodhulp" in jou kar: 'n sker, tang, quick fix vir 'n papwiel, pk kerriepoeier vir verkoeler probleme, nylontou vir ingeval jy gesleep moet word, 2liter bottel vol water en 'n spaar waaierband.
As jou skuld te veel raak, tree in verbinding met jou skuldeisers en reël om minder per maand te betaal. As jy net stilbly, sit jy op die ou end met prokureurs- balju of hofonkostes.
As jy nie met jou geld deurkom, skryf een maand elke ding neer waarop jy geld uitgee. Kyk dan waar het jy ge'mors' en probeer dit uitsny. Jy sal verbaas wees hoeveel jy op die manier kan bespaar. Ry minder trips winkel toe om petrol te bespaar. Loop of gebruik 'n bus indien moontlik. Koop goedkoper make. Moet veral nie vir gewilde klere-name val soos bv. billabong. Jy betaal 'n fortuin vir die naam, nie vir kwaliteit nie. Dieselfde geld vir juwele. Niemand kan sien of dit eg of nagemaak is nie.
Kweek jou eie groente vir huisgebruik. Dit werk jou baie goedkoper uit as om dit by die winkel te koop.
Gebruik jou verborge talent om vir jou 'n ekstra geldjie in te bring. As jy bv goed met tuisgebak is, verkoop dit aan vriende of winkels. Of maak klere vir ander. Jy kan ook saailinge kweek. Of kostuumjuwele maak. 'n Vriendin van my bak brood en kan nie voorbly met die bestellings nie. Nog een maak gedroogte perskes van haar eie bome. En nog een maak joghurt. Die moontlikhede is legio.
Kyk eers na tweedehandse kinderklere by die skoolbank voor jy nuwes koop.
Snoer saam met vriende om grootmaat by groothandelaars te koop.
Ons gooi te maklik ou brood weg. Gebruik dit as roosterbrood tot dit heeltemal op is. Jy kan die ou brood ook verkrummel en die krummels in 'n sakkie in die diepvries bêre vir latere gebruik as bedekking vir vleis of in maalvleis.
Moenie jou neus vir maalvleis optrek nie. Daar is soveel maniere om dit gaar te maak dat dit nooit vervelig behoort te raak nie. Gemeng met 'n eier, broodkrummels, fyngerasperde ui en 'n pakkie soppoeier van jou keuse, kan jy die heerlikste platkoekies of ronde frikkadelle maak. Jy kan ook 'n klomp vooraf maak en bevries. Of rek die maalvleis met fyngerasperde aartappel vir bobotie, herderspastei of 'n vleisbrood.