Op 64 beskou ek
myself as bevoorreg dat ek in my leeftyd verskeie era’s, elk met sy eie
uniekheid, kon ervaar.
As kind wat op ‘n plaas grootgeword
het, het ons nie gekoopte speelgoed geken nie. Ons was van onsself afhanklik
vir vermaak. ‘n Gewilde bron van speelgoed was die ashoop met sy blikkies,
bottels en ander weggooigoed. En verveeld was ons nooit. Ma moes sukkel om ons
saans in die huis te kry. Ek en my maatjie, Kandas Modiwe, het altyd die
heerlikste avonture beleef. Ons het graag skool-skool gespeel, en baklei om
juffrou te wees sodat jy jou leerder bont kon slaan met ‘n liniaal!
Slae
is daardie jare aanvaar as deel van jou opvoeding. En boeta, het ons dit
verdien! As ons stout was was ons behoorlik stout. Soos om my oupa se kwaai
bulle aan die sterte te gryp. Hulle het dan ‘n ent met ons gehol voordat hulle
omgevlieg en ons met ‘n boog deur die lug getrek het. Dan moes ons vir ‘n vale skarrel om nie deur hul hoewe vermorsel
te word nie.
In
my kleintyd was mense glad nie so veiligheidsbewus soos vandag nie. Kinders is
toegelaat om voertuie te leer bestuur wanneer hulle nog nie eens behoorlik
bo-oor die dash board kon sien nie. Pa het altyd ‘n 2 gallon-kan in die bakkie
gehou wat ek agter my rug moes sit om die pedale by te kom. En vuurwapens! Dis
sommer op die hangkas of in ‘n laai gebêre. Ons kinders het een keer ‘n
liederlike pak slae gekry nadat ons pa se .22 uitgesmokkel en toe onder groot
gelag deur mekaar se voete probeer raakskiet het! Dis net ‘n wonder dat ons
lewend aan die anderkant uitgekom het!
Daardie
jare was mense nog nie so behep met gesond eet nie. Ouma het altyd vetkoek
gebak wat ‘n hele bord vol gelê het. Ons het dit dan met vars room en stroop
geëet. Te heerlik!
As
kind het ons nie elektrisiteit op die plaas gehad nie. ‘n Enkele kers het
genoeg lig gemaak om by te lees en selfs fyn naaldwerk te doen. Oe, en wie sal
nou vergeet van daai hol gevoel in jou rug wanneer jy met die flikkerende kers
in die gang af geloop en dit sulke spookagtige skadu’s teen die mure gegooi
het? Ek het altyd die laaste ent gehol dat dit bars!
Die
kinders van daardie tyd is sommer kleintyd al geleer om handig te wees. Ek het
nog nie eens skool toe gegaan nie toe kon ek al vuur in ‘n koolstoof aanpak. En
wie kan nou
die primus vergeet? Jy pomp en pomp en as hy bly stotter, dan word sy gaatjie
met ‘n ‘priek’ oopgesteek. Ek kon ook vroeg al ‘n koei melk dat die skuim so
staan en niks was lekkerder as om van daardie melk te drink terwyl dit nog lou
was en ‘n skuimring om jou mond gevorm het nie.
Ek
moes op sesjarige ouderdom koshuis toe. Sondae kerk en Sondagskool toe. Op pad
kerk toe het ons gereeld ons pennie of tiekie kollektegeld gebruik om pienk
‘ouderlingspilletjies’, Wilson-toffies of suurklontjies te koop. In die kerk
het ons koshuiskinders heel voor gesit, met die kerkraad net agter ons. As ons
dan lekkers eet of begin giggel, is ons sommer met ‘n gesangeboek oor die kop
gemoker. En boeta, laat jy nou net nie jou teks geken het nie! Dan kon jy maar
klaarmaak om oor die koshuismoeder se skoot getrek te word!
Ek
was ook kind in die tyd van die draadloos en Die Du Plooys van Soetmelksvlei.
En van raserige plaaslyne, kodeluie en inluister op ander se gesprekke. Ek kan nog vir tant Martjie
onthou. Sy’t baie keer so ingedagte geraak wanneer sy gesit en inluister het
dat sy sommer lustig saam begin gesels het!
As
jongmens was dit waatlemoenfeeste, boeresport en waenhuispartytjies met lekker
boeremusiek en die two-step vir vermaak. Dit was ook die era van hoed dra vir
kerk, en sykouse wat met ‘suspenders’ bo gehou is voordat die gerief van
broekiekouse gevolg het. En wie kan
nou vergeet van die byekorf-haarstyl, kliphard gespuit en stywe
uitskop-onderrokke, die crimplene rokkies en prinsesstyl wat lank hoogmode was.
Ai en die mini’s, maak nie saak hoe dik jou bene was nie!
En
jare later het die ‘beeldradio’ ons getref. Wat ‘n grootse gebeurtenis was dit
nie! Saans het ons omtrent vasgenael gesit om die A-team se avonture te geniet.
Of Katinka Heyns en Tobie Cronje s’n in Willem. En moenie The Avengers vergeet
nie. Ons almal het Purdy se piepot-haarstyl nageaap!
Ek
dan vandag se tyd. Die mikrogolf en die tuimeldroër en al die ander hedendaagse
uitvindsels wat die huisvrou se lewe net soveel makliker kom maak het. En die
selfoon, wat in ‘n kort tydjie van ‘n koordlose belinstrument tot ‘n
tegnologiese wonder gevorder het, want kyk net wat jy vandag alles daarmee kan
aanvang!
Maar
vir my persoonlik was die rekenaar die grootste wonder van alles. Ek kan onthou hoe ek vroeër
jare my stories met die hand geskryf en dan met my ou tikmasjientjie oorgetik
het. ‘n Eindelose en tydrowende proses. Toe ek my eerste rekenaar kry, nog in
die tyd voor die internet groot nuus geword het, was dit lank ‘n wit olifant in
ons huis voor ek eendag uit skryfboeke geraak en noodgedwonge op hom begin tik
het. En wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie om aan die skryfsel te kon skuur
en skaaf sonder om dit elke keer weer oor te moes skryf nie! Ek was gehook!
Met die internet was ek eers net so
dom. Ek het gevorder tot by Google se soekblad en toe hoe lank daarna gesit en
staar terwyl ek gewonder het hoe op aarde kom ek nou by die internet uit. Ek
het gedink dis iets soos ‘n TV. Jy sit dit net aan en dan verskyn jou kykstof
op die skerm! Dit het my ‘n taamlike tydjie gevat om te begryp hoe die internet
nou eintlik werk, maar uiteindelik het ek hom ook baasgeraak. Vandag is ek so
vertroud daarmee dat selfs my kinders my niks meer kan leer nie!
My lewe was inderdaad soos ‘n
heerlike ontdekkingsreis deur verskillende tydvakke!