Wednesday, August 29, 2012

Bedrieglike Ads Op Facebook

Op die internet moet jy werklik ligloop vir skelms, selfs diegene wat op facebook adverteer. Ek besluit vandag om op daai in te gaan wat so knaend 'n jeugdige voorkoms adverteer. Elkeen van hulle advertensies is bedrieglik in dié opsig dat hulle dit laat klink asof jy NIE room of so iets gaan gebruik nie. Hulle praat bv. van "tips" om jonger te lyk, of die "loophole" of die ma wat twintig jaar afgeskud het sonder botox of kosmetiese sjirurgie.

Dit terwyl hulle maar net een van miljoene rome verkoop wat daarop aanspraak maak dat dit die plooie verwyder en teen dié tyd weet ons almal darem al dié soort foefie werk net so min soos vars beesmis op 'n koue wintersmôre. Wel, die rede waarom ek toe op hul site ingaan is om vir hulle te gaan vertel wat ek van hulle "deceitful" ads dink, maar toe ek daar kom, toe vang hulle my wragtig met 'n slapriem, iets wat ek nie gedink het enige internetskelm meer sal regkry nie. Hulle verlei my naamlik met 'n offer wat so verleidelik klink dat ek skoon vergeet van daai spreekwoord: as 'n ding te goed klink om waar te wees, dan is dit gewoonlik.

Elk geval, die aanbod is as volg: ek moet net die R30 posgeld betaal, dan stuur hulle vir my die wonderroom geheel en al verniet om uit te probeer. Wie sal nou so 'n aanbod van die hand wys. R30 vir 'n produk waarvoor hulle gewoonlik honderde rande vra!

Ek vul toe hulle vormpie in met my posadres ens, en kom toe by die deel waar ek my kredietkaart besonderhede moet invul vir die R30 wat afgetrek moet word. Dit doen ek toe ook en net voor ek "submit" druk sien ek 'n mikroklein link wat sê dié aanbod is onderwerpe aan hulle "terms and conditions". Ek wil dit eers ignoreer want ek gaan nooit daar in nie, dis vir my darem te erg om daai blaaie en blaaie vol mambojambo te lees. Maar dis of 'n stemmetjie my waarsku om dit tog maar hierdie keer te doen en GELUKKIG luister ek vir 'n verandering daarna. Ek lees toe al die lang niksseggende reels en regulasies deur en eers teen die einde, toe ek ampertjies al wou uitgaan omdat ek niks verdags sien nie, maar weereens GELUKKIG besluit om deur te druk, toe sien ek dat die oomblik as ek daai bestelling bevestig het, is ek ook verbind om die end van die maand R1700 (of 'n bedrag in daai koers) te betaal, wat hulle dan nou sonder my toestemming van my kredietkaart sou aftrek en R90 maandeliks daarna! Ek kon my oë nie glo nie. Om die waarheid te sê ek raak nou nog yskoud as ek dink hoe amper die wetters my gevang het.

En nou wonder ek hoeveel mense word wel so uitgevang en sit op die ou end met meer as net 'n paar onwelkome rimpels!!

Om vir diere om te gee



Hierdie week se voorblad van Landbouweekblad met die boer en sy twee Brahmane is só pragtig. Kyk net hoe liefderyk die een met sy kop op sy baas se  skouer leun, oë eintlik toegeknyp van lekkerte! Wie sal nou so 'n dier kan verkoop of, nog erger, laat slag?

Beslis nie my twee seuns nie! Ons is bevoorreg om aan die buitewyke van die dorp te bly, met die veld wat aan ons erf grens, met die gevolg dat ons diere kan aanhou sonder dat dit die bure pla. Behalwe vir twee honde en twee mak volstruise wat ook as waghonde dien, het my seuns al met braaikuikens probeer "boer" maar dié boerdery het gesneuwel omdat hulle dit nie oor hulle harte kon kry om die hoenders te slag nie. Ook nie lewend te verkoop nie, nadat hulle gesien het hoe sleg party van die kopers met die hoenders werk.

'n Bietjie meer as 'n jaar gelede het hulle vyf ganse hier aangebring wat die vorige eienaar nie wou gehad het nie. Dié het dadelik begin vermeerder tot in die twintig, en is tans weer aan't broei. Net ná die ganse het hulle vier babavarkies gekoop wat besig was om te vrek van honger. Hulle is toe dag en nag tiet gegee en alvier is vandag spekvet en uitgevrete, en sal self eersdaags met hulle eie vermeerderingsproses begin. Maar moenie dink die slagpale of 'n vendusie word vir hulle in die vooruitsig gestel nie. Of om op die Krismistafel met 'n appel in die bek te pryk nie. O nee, hulle sal seker maar saam met die ganse toegelaat word om eendag van ouderdom dood te gaan. Hulle en al dié wat deur hulle voortgebring gaan word!

Partykeer maak die spul my moedeloos, veral as ek wil slaap en ganskoor besluit om my te kom serenade. Net diegene wat ganse aanhou sal weet wat ek bedoel as ek sê jy sal ver moet soek om iets te kry wat 'n groter keelgat kan opsit as 'n gans. Maar wat, gewoonlik kla ek net tot ek in die nuus lees van een of ander dier wat so gruwelik weer mishandel is. Dan sê ek dankie vir my kinders wat omgee. Eerder te veel as glad nie.



Monday, August 27, 2012

Om 'n man te vang

Ag, ek sou tog so graag weer 'n maat wou hê, maar dit lyk my die regtes is maar yl gesaai. Hulle is of getroud of dood!

Het so 'n ruk terug op 'n dating site probeer, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Die omies wat gereageer het was almal net op een ding uit. Kan jy glo? Lyk my niemand is ooit te oud dáárvoor nie!

Ek sal my maar in my kinders se dinge verlustig. En hier is genoeg sports. Veral as die twee seuns te diep in die bottel kyk en hulle begin geséls! Oe, ek wens so ek kan hulle elke keer afneem en op You Tube sit, ek is seker die mense sal dit vreeslik geniet. Die grootste stront wat by hulle monde uitkom en dan klink hulle boonop so érnstig!

Thursday, August 23, 2012

PANAMOR teen pyne (against aches and pains)

In hierdie tye van rekenaars en muise hoor jy alhoemeer van rekenaargebruikers wat met bo-armpyn sukkel. Ek het vir langer as 'n jaar sulke pyne in my regterboarm gehad en enige medisyne of raad gevolg, sonder sukses. Toe vra ek eendag vir ons apteker vir iets (sonder om veel te verwag) en hy gee my 'n pakkie pille - R10 vir 24. Juis omdat dit so goedkoop is het ek gedink dit mag goedkoop wees maar dis steeds R10 in die water. Wel, na die vierde pilletjie het die pyn begin verdwyn en nou 'n jaar later steeds geen pyn nie. Nou die dag kry ek onverwags die verskriklikste pyne in my linkerarm, so erg dat ek nie kan aan- of uittrek, of uit die bad kan opstaan sonder hulp nie. Ek onthou toe van die panamor pilletjies en ook dat daar nog drie van die vorige pakkie oor was. Ek drink toe die eerste een die oggend, die tweede een die middag en teen ek die derde een die aand drink, was die pyn reeds iets van die verlede. So as jy ooit weer 'n pyn erens het, probeer gerus Panamor, dis goedkoop en dis oor die toonbank te kry en wie weet, miskien help dit ook vir jou.

Tuesday, August 14, 2012

Liewe Maggie....

Ek soek advies asb.. Ek en my man is pas getroud en ek dink hy het 'n dwalende oog. Hoe kan ek verhoed dat hy my verneuk?

Antwoord:
Kry kinders by die dosyne en laat die bogger ook snags opstaan vir hulle. Hy sal nie die geld of die energie hê om 'n minnares aan te hou nie!



Help asb. Maggie. My baas verpes my by die werk. Hoe kan ek hom op sy plek sit sonder om my werk in die gevaar te stel?

Bel hom 1uur in die oggend by sy huis en sê jy sukkel om te slaap en vra wat doen hy. Laat hom dan aan sy vrou verduidelik wat aangaan.