Ek dink ons almal beleef een of ander tyd in ons lewe daai "ek-wens-die-aarde-sluk-my-in" oomblik. Ek het dit al baie oorgekom. Soos een keer toe ek in die bank was en lekker met my sussie (wat 'n kassier was) staan en gesels het oor die nuutste skinderstories. Ek vertel haar toe dat ek hoor Moos So-en-so is die naweek opgesluit nadat hy sy vrou glo aangerand het, Ek sien my sus is rooierig in die gesig en sy rol haar oë aanmekaar by my verby terwyl ek kliphard bespiegel: "Tien teen een het hy Sandra weer met 'n ander man in die bed betrap!" Eers met die omdraaislag sien ek toe hoekom Sus so benoud was. Sandra se ma het heeltyd reg agter my gestaan!
Ag dan praat ek nie eens van die keer toe ek die heel oggend in die dorp rondgeloop het, bewus van die ongewone feit dat mense my oral agternastaar, en ónbewus daarvan dat my rok se hele naat agter oopgegaap het, dit terwyl ek weens die versergende hitte nie die nodige onderklere aangehad het nie. Gelukkig was ek al by die huis toe ek dit ontdek het anders sou ek seker net daar in die sypaadjie se slote in verdwyn het!
En wat van daai winderige glipsies? Wel, myne was nie heeltemal 'n glipsie nie. Myne was 'n misverstand. Sien, ons het die vorige aand boontjiesop geëet en diegene wat al boontjiesop geëet het, sal weet hoeveel gasse dit in 'n mens se buik veroorsaak. Die volgende dag lê ek toe in die sitkamer op 'n bank en lees toe die gasse begin om uitkoms te soek. Nouja, omdat ek dink ek is alleen, probeer ek hulle nie eens keer nie. Om die waarheid te nadat ek die heel nag opgeblase gevoel het is dit 'n yslike verligting om uiteindelik te laat waai. En te lawaai! Een dawerende serenade na die ander. Tot ek my seun skielik hoor sê: "Má...!" En daar staan hy en sy baas in die deur. Hulle het gou iets kom kry maar ek was so besig om af te blaas dat ek hulle nie eens hoor inkom het nie!
Maar wat, skaam soos 'n mens ookal voel as so iets gebeur, dis menslik. Enige een kan dit oorkom. En dit gee mense iets om oor te lag!