Monday, June 13, 2011

Wat werklik belangrik is

Ek hou van hierdie gedagte:   Dis nie wat jy bymekaarmaak wat tel nie, maar wat jy uitdeel.

Ons het almal ideale. 'n Droomhuis. 'n Droomwerk. 'n Droomman of -vrou. Ons wil die beste wees in wat ons doen. En laat ons nou maar eerlik wees, dit gaan alles om die eie ek, om jou ego te voed, om belangrik te voel. Tog is dit nie al hierdie dinge wat mense na jou toe aantrek nie. Hulle sal jou miskien op 'n afstand bewonder, of met verering oor jou praat, maar as dit by vriende kom, kies hulle diegene wat makliker gee as ontvang. Hulle wat nie omgee om in die nag op te staan as jy in die nood is nie. Wat sy of haar laaste sente vir 'n boemelaar sal gee. Wat 'n outannie oor die straat sal help. Wat onselfsugtig en altyd daar is vir jou.

So, miskien moet ons ons strewe 'n bietjie begin verander. Ons meer op ander se behoeftes instel as ons eie. Daar is werklik niks so bevredigends soos om te weet jy het met 'n onbaatsugtige daad iemand anders se lewe beter gemaak nie.


Wednesday, June 8, 2011

Bejaardes in nood

'n Mens hoor net te dikwels van bejaardes wat dood in hul kamertjie aangetref is, soms weens 'n siekte, meer dikwels as gevolg van honger, koue of ander ontberings. Die dae toe kinders vir hul bejaarde ouers gesorg het tot die dood toe is helaas besig om 'n skaars kommoniteit te word.

As jy nog 'n hart en gewete het, doen asseblief jou plig. En nie noodwendig net vir jou eie ouers nie. Wanneer jy gaan inkopies doen of werk toe ry, wees op die uitkyk vir bejaardes wat te voet is. Daar is baie van hulle wat geen vervoer het nie en dan winkels toe moet loop terwyl hulle nie regtig daartoe in staat is nie. Vind ook uit of daar in jou buurt bejaardes is wat alleen bly. Gaan hoor dan of jy dalk kan help met inkopies of persoonlike versorging. Of, as jy nie daarvoor kans sien om permanent betrokke te raak nie, bring ten minste net die persoon se nood onder 'n welsynwerkster se aandag.

Onthou, ons almal raak oud as ons nie voor die tyd deur onvoorsiene omstandighede weggeneem word nie. Ek begin die ouderdom self nou aan eie bas voel. Jy het geen beheer oor ledemate as hulle nie meer wil saamwerk nie. Probeer jouself in so 'n situasie indink en ontwikkel dan empatie as jy dit nie voorheen gehad het nie. Ek glo aan kharma. Dat dit wat jy vir ander doen dubbel aan jou teruggedoen sal word. Begin dus vroegtydig belê in 'n toekoms waar jy dalk die hulpelose een gaan wees!


Tuesday, June 7, 2011

Eendeweer en pannekoek

Dis vandag die regte weer vir pannekoek -nat koud en reënerig. Laat my dink aan 'n prettige voorval toe ek nog 'n kind was. Ek en my vriendin moes Ma help pannekoek bak vir boetie en sy nuwe meisie wat op pad was vir 'n kuiertjie. Ons besluit toe om Boet 'n streep te trek deur 'n ronde lap te sny en in een van die pannekoeke te bak.

Waarmee ons nie rekening gehou het nie was dat sy deftige meisie se deftige ouers sou saamkom. En soos die duiwel dit wou hê beland die "gelapte" pannekoek toe op die meisie se ma se bord. Die arme vrou het gesny en gesny en die pannekoek van alle kante bekyk en intussen al rooier geword omdat sy nie 'n stukkie afgesny kon kry nie. Terwyl ons natuurlik op 'n afstand gestaan en giggel het.

Ma het toe later agtergekom iets is verkeerd en ondersoek ingestel. Nodeloos om te sê ons boude het gebrand toe sy die lap daarin ontdek!

Sunday, June 5, 2011

Wenke vir gesondheid

Het hierdie naweek iets ontdek wat werk vir blaasinfeksie - Citro-soda. My infeksie was so erg dat ek geen beheer oor my blaas gehad het nie en binne twee ure nadat ek die citro-soda twee keer gebruik het, was ek reg soos reën!

Vir erge diarree, drink net 4 Lomotils en jou probleem behoort opgelos te wees.