Ons hoor tot satwordens tot van die "agtergeblewendes". Maar daar is ook 'n ander soort waaroor min gepraat word: kinders wat die slagoffers is van armoede, van alkoholisme, van mishandeling en van huishoudelike geweld.
Bennie is so 'n kind. Alhoewel hy op 10 'n jaar ouer as my kleinseun is, lyk hy ten minste 2 jaar jonger. Hy is klein en tingerig, met groot bruin oë en 'n wit koppie. 'n Verstotelinkie met wie die ander kinders nie wil speel nie, want hy ruik altyd na piepie. Ma en Pa drink albei, as Pa dronk is slaan hy Ma en kinders.
Die ouers wil ook nie hê hul kinders moet met Bennie speel nie, want hy was nog in die kleuterskool toe het hy al gerook en selfs gedrink as hy drank in die hande kon kry. Hy vloek ook soos 'n matroos. Onder ma se rok uit. Dis 'n netelige situasie. Jy kry die kind uit jou hart uit jammer, want hy het nie 'n lelike geaardheid nie, maar jy is bang vir die invloed wat hy op jou kind kan hê. Jy wil hê hy moet ook maats hê maar net nie jou kind nie.
Sulke kinders het mos nie 'n kans in die lewe nie. Daar is niemand wat vir Bennie 'n voorbeeld kan stel nie. Geen ouers wat hom leer van liefde en warmte en omgee nie. Geen veilige hawe waarheen hy smiddae kan terugkeer nadat ander kinders hom geboelie en juffrou op hom gepik het nie. Hulle bly in 'n spoorweghuis aan die buitewyke van die dorp, 'n gevaarlike roete deur 'n verlate plantasie. Snags is dit pikdonker in daardie deel van die dorp. As die kinders op 'n ander dorp gaan rugby speel het, word hulle donker by die skool afgelaai. Bennie moet dan soos sy vinger alleen huis toe stap, deur daardie donker plantasie. En niemand gee om nie.
Dit het nou al 'n paar keer gebeur dat Bennie se ouers die pad vat oor 'n naweek. Dan kom laai hulle hom doodeenvoudig voor ons huis in die straat af en maak dat hulle wegkom. Sonder klere en sonder om seker te maak ons is wel tuis. Dan sit ons die hele naweek met 'n onwelkome klein gas. Mense sê maklik jy moet die geval by die welsyn aanmeld. Maar wat gebeur dan? Bennie word deur 'n oorwerkte welsynwerker by 'n oorvol kinderhuis afgelaai, waar die geboelie en diskriminasie maar net voortgesit word, dié keer in 'n vreemde vreesaanjaende omgewing. En uit Bennie se praatjies het ek al afgelei dat hy eerder mishandel sal word as om uit sy ouerhuis verwyder te word. Dis immers al wat hy ken.
Is daar werkbare oplossings vir sulke gevalle? Ek wens ek het geweet.