In die meeste omstandighede hoef ons nie ‘n slagoffer te
wees nie. Maak nie saak of jy ‘n boer is wat sukkel om van die plakkers op jou
plaas ontslae te raak en of jy ‘n vrou is wie se lewe deur ‘n stalker of ‘n
gewelddadige eggenoot of ‘n wraaksugtige eks of ‘n orige baas hel gemaak word
nie. Daar is altyd ‘n plan wat jy kan volg om van die peste ontslae te raak.
Om by die boere te begin. Vergeet van die polisie se hulp
inroep of jou op die hof te beroep as jy met plakkers op jou grond sit. Jy sal
tien teen een teen hierdie tyd weet hulle is van geen hulp in sulke gevalle
nie. Ek het ‘n paar gevalle nagevors en gaan kortliks van een vertel wat soos
‘n bom gewerk het.
Toe plakkers op ‘n plaas langs syne begin plak het, was dit
die einde van Neels se waatlemoen boerdery. As die oortreders nie van die
waatlemoene gesteel het om te eet of te verkoop nie, het hulle dit vol gate
gesteek sodat hy niks daarmee kon doen nie.
Neels se seuntjie het toe eendag vir hom ‘n aardige masker
gekoop, van die soort wat jy oor jou kop trek. Die kind het toe ewe onskuldig
buite op die werf daarmee rondgeloop, maar sover hy gegaan het en ten spyte
daarvan dat die swart werkers geweet het dis hy, het hulle histeries gevlug
elke keer as Neels se kind naby hulle gekom het. Dit het Neels toe ‘n idee
gegee.
Hy en twee vriende het vir hulle soortgelyke maskers gaan
koop, swart klere aangetrek en nag na nag in ‘n oop veld op die rand van die
plakkerskamp gaan ronddwaal. Elke keer as hulle van die plakkers gewaar het hulle
hul maskers met flitse verlig. Nie lank nie of die storie van tokkelossies het
onder die plakkers versprei. ‘n Paar weke later was hulle almal weg! Daar het
intussen ook stertjies bygekom, blykbaar deur die plakkers self gefabriseer,
soos dat daar al baie swartes op daardie plaas vermoor en skelm begrawe is en
dat hul geeste saam met die tokkelossie rondgeloop het. Hoe dit ookal sy, Neels
het nooit weer probleme met plakkers gehad nie en niemand het ooit weer by sy
waatlemoene kom lol nie.
Nou vir die vrouens wie se lewens deur mans versuur word.
Jy kan enige van die volgende metodes gebruik om van hom
ontslae te raak.
As dit jou baas is wat gans te opdringerig met jou is, en jy
is te bang om hom by die grootbase te gaan aangee, eet genoeg knoffel en sorg
dat hy dit ruik wanneer hy te naby jou kom. Jy kan dalk ook sorg vir ‘n
sweetreukie! As hy onbehoorlik aan jou vat, spring elke keer met ‘n gilletjie
op en maak of jy maar net ‘n senuweeagtige soort mens is wat maklik skrik. As
hy jou met geweld probeer soen of so iets, kan jy gerus maar ‘n vice grip op sy
kroonjuwele uitvoer tot hy jou los. Hy sal dit nie sommer waag om jou agterna
te viktimiseer nie, want dan sal hy moet verduidelik hoekom jy hom daar gegryp
het. Indien jy die moed het, kan jy selfs dreig om sy vrou van sy gedrag te
vertel indien hy jou nie met rus laat nie.
As iemand wat jy redelik goed ken skielik in so ‘n mate op
jou gefikseerd raak dat jy ongemaklik begin voel, neem sy selfoonnommer en
begin hom op die onmoontlikste tye bel, soos by sy werk of wanneer hy snags
slaap, kastig net om te hoor hoe dit gaan. Gesels dan sonder ophou oor goed
soos jou prikkelbare dikderm, jou bloeiende aambeie en die baie operasies wat
jy al aan jou vrouedele deurgemaak het.
Huishoudelike geweld is natuurlik ‘n baie ernstiger saak.
Maar ek het die volgende staaltjie van ‘n kennis gehoor en dink dit was ‘n heel
oorspronklike plan!
Kom ons noem haar Ryna. Sy was vir jare haar man se
slaansak, maar was eenvoudig te bang om hom te los want hy het gedreig hy sou
haar, hul kinders en homself vermoor indien sy dit doen. En sy het geglo hy sou
dit regtig doen. Maar toe begin Ryna terugbaklei. Nie fisiek nie, maar psigies.
Herklaas, wat altyd in haar goed gekrap het omdat hy vas geglo het sy verkul
hom, het skielik begin afkom op goed wat hom al hoe ongemakliker laat voel het.
Soos ‘n houertjie met wit poeier (versiersuiker) in haar handsak waarop geskryf
was: strignien. En tussen haar
biblioteekboeke het hy een gekry oor vroue wat hul mans vermoor het. Hy het ook
drukskrifte gekry wat sy van die internet afgelaai het wat gaan oor hoe om
iemand dood te maak sonder om uitgevang te word.
Saans, wanneer hulle gaan slaap het, het Ryna gemaak asof sy
dink Herklaar slaap al (terwyl sy aan sy asemhaling kon hoor hy is nog wakker)
dan het sy stilletjies opgestaan. Soms het sy ‘n mes uit die kombuislaai
gehaal, ander kere het sy in die sitkamer swaar voorwerpe opgetel en dit
“getoets” deur dit in die lug te swaai. Gewoonlik was ‘n uiters agterdogtige
Herklaas kort op haar hakke om ‘n verduideliking te eis, waarop Ryna dan ‘n
hakkelende en onoortuigende storie gefabriseer het.
Ryna se plan het uitmuntend gewerk. Nie net het Herklaas
opgehou om haar te slaan nie, hy het uit die huis geepad en haar vir ‘n
egskeiding gevra!
Ja’k, as ‘n boelie van sy eie medisyne inkry, proe dit nooit
te lekker nie!